Sub-kontrakteur optrede by wanbetaling

Die Kontrakteur het die ooreenkoms met die munisipaliteit gesluit en is deurentyd verantwoordelik vir die nakoming van alle verpligtinge soos vervat in die hoof-kontrak. Om die reëlings rondom die loodgieterswerk kontraktueel vas te maak, sluit die Kontrakteur en Sub-kontrakteur ‘n verdere ooreenkoms (“Sub-kontrak”) waarin die onderlinge regte en verpligtinge rondom die uitvoer van die loodgieterswerk deur die Sub-kontrakteur gereël word.

‘n Paar maande na die aanvang van die projek het die Sub-kontrakteur reeds die meeste van sy verpligtinge in terme van die Sub-kontrak nagekom maar slegs gedeeltelike betaling van die Kontrakteur ontvang vir die werk verrig. Die Kontrakteur het egter begin agter raak met sy verpligtinge in terme van die hoof-kontrak met die munisipaliteit en nou weerhou die munisipaliteit betaling van die Kontrakteur. Dit veroorsaak ‘n kontantvloei probleem by die Kontrakteur en kan hy nie sy sub-kontrakteurs betaal nie. Die Sub-kontrakteur wil egter sy verpligtinge voltooi om na sy volgende geskeduleerde projek te beweeg, maar is huiwerig om verdere kostes aan te gaan waarvoor hy geen betaling mag ontvang nie.

Die natuurlikste reaksie van enige sub-kontrakteur is om sy dienste te staak en geen verdere werk te verrig totdat betaling vir die werk reeds gelewer ontvang is nie. Maar is dit die oplossing? Deur net nie op te daag vir werk nie loop die Sub-kontrakteur die risiko dat hy die Sub-kontrak verbreek en homself skuldig maak aan kontrakbreuk. Dit is dus belangrik dat die Sub-kontrakteur streng volgens die bepalings van die Sub-kontrak optree ten einde sy regte af te dwing.

Enige behoorlik opgestelde ooreenkoms sal bepalings bevat wat uiteensit wat moet gebeur in die geval van pligte wat nie nagekom word nie. Daar is ook heelwat standaard ooreenkomste soos die JBCC kontrakte wat gebruik kan word vir die reël van sub-kontrakteur verhoudings. Dikwels vereis die ooreenkomste skriftelike kennis aan die ander party waarin vereis word dat die verpligtinge binne ‘n sekere tyd vervul moet word. Sodanige kennis deur die Sub-kontrakteur sal dan ook moet aantoon dat hy sy dienste gaan staak vir die tydperk wat die Kontrakteur versuim het om sy verpligtinge teenoor die Sub-kontrakteur na te kom.

Die Sub-kontrakteur sal vandat kennis gegee is geregtig wees om van die terrein af weg te bly en verder om nie die gedeelte van die projek waarvoor hy aangestel is te voltooi binne die voorgeskrewe tydperk nie. Deur die Kontrakteur kennis te gee in terme van die Sub-kontrak, verseker die Sub-kontrakteur ook dat hy sy regte behou wat hy in terme van die Sub-kontrak het wat belangrik mag wees in die geval waar moontlike toekomstige regstappe teen die Kontrakteur geneem word.

Dit is natuurlik om bekommerd te wees oor wanbetaling of ander gebreke in ‘n kontrakteur se optrede maar dit bly van wesenlike belang dat jy hou by die letter van die kontrak en die remedies uitoefen soos deur die kontrak voorgeskryf. Dit mag ook belangrik wees om regsadvies in te win voordat enige kennis gegee word om te verseker dat aspekte soos moontlike retensieregte ens. nie verlore gaan indien jy van die terrein af wegbly nie.

Waar daar geen kontrak is nie of die kontrak in gebreke is rondom die hantering van sulke situasies moet regsadvies ingewin word oor die korrekte prosedure wat gevolg moet word. Deur die reg in eie hand te neem kan jy vir jou meer skade berokken as wat jy deur jou optrede kan wen. Wat ook verder belangrik is, is die waarde van ‘n goeie kontrak. Oorweeg dit sterk om ‘n ordentlike ooreenkoms te laat opstel of ‘n gepaste standaard oorenkoms te gebruik wat die regte, verpligtinge en remedies van partye behoorlik uiteensit en sodoende kan bydra tot die korrekte hantering van probleme wat mag onstaan gedurende die uitvoer van die kontrak.

Share Button